background31

21 Mei 2015

Toer na die VSA - getuienis

Ek het alleen na New York en Detroit gevlieg om my span by die Robofest wêereldkampioenskappe by te staan. Hulle was reeds daar.

Getuienis 1

Ek vlieg op hemelvaartdag en soos wat ek uitkyk by die venster, was die volgende woorde heeltyd by my:

En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. Act 1:9 

Die Here is met ‘n wolk opgeneem en ek vlieg nou tussen die wolke op sy hemelvaartdag herdenking…. Hoeveel nader kan ek aan Hom voel vandag?

 

Die HERE is lankmoedig, maar groot van krag; en nooit laat die HERE ongestraf bly nie. Sy weg is in warrelwind en in storm, en wolke is die stof van sy voete. Nah 1:3 

As die wolke die stof van Sy voete is en ek vlieg nou deur die wolke dan sit ek by die voete van die Here.

Dit was alles gedagtes wat my gevul het op hierdie dag van die Here.

 

Getuienis 2

Ek het nog nooit na New York gevlieg nie en was baie onseker waarheen om te gaan en wat om te doen, soveel so dat ek 2 weke voor die vlug ‘n “heerlike” stres aanval gehad het maar mettertyd na gebed en baie voorbereiding, baie kalm geraak het. Die persoon wat langs my op die vlug gesit het, bly huidiglik naby Ballito, maar kom van my tuisdorp af en was ook in Michelle se hoërskool. Die man vlieg gereeld en het my vertel van die oranje kaart wat ek by die hek moet kry dan kan ek die vinnige lyn neem deur doeane aangesien my koppelvlug binne 2 ure sou wees. Hy het my op die ou einde voor gegaan en die pad gelei en binne 30 minute is ek deur doeane op pad na die volgende vertrek saal. (die ander spanlede het 2 ure in die rye gestaan). Ek noem die man my “vlug-engel” want die oomblik toe ons deur doeane is en ek my bagasie opgetel het, het hy spoorloos verdwyn! Ek kon hom nie eers dankie of koebaai sê nie. dit was net asof hy nie bestaan het nie….

 

Getuienis 3

Die 1e oggend in Howell (‘n woud waar ek gebly het naby Michigan) het ek die volgende oomblikke gehad in my oggend stiltetyd. Dit was net woud rondom my en as ek my hand by die venster sou uitsteek kan ek aan die bome vat en die stilte… dit was goddelik, veral as jy dink aan my vorige dag se 2 oomblikke van getuienisse en nabyheid van die Here…

 ‘n Psalm. By die lofoffer. Juig voor die HERE, o ganse aarde!

Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.

Erken dat die HERE God is: Hy het ons gemaak, en ons is syne, sy volk en die skape van sy weide.

Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.

Want die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.

Ps 100

 

En skielik was daar saam met die engel ‘n menigte van die hemelse leërskare wat God prys en sê:

Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae! Luk 2:13-14

 

Ek het die lied so by myself begin sing en trane in my oë gekry van vrede en lof en dankbaarheid. Hierdie is nie eintlik ‘n getuienis nie maar ‘n heerlike ervaring van die heerlikheid van die Here!

 

Getuienis 4

Z tour pic 

Na die vorige 3 dae se “high” is ons kompetisie toe, maar die vyand het toe sy mes probeer in kry. Die rede vir ons toer het net daar begin afdraend gaan toe die robot weier om reg te werk en die kinders daarna nie werklik hulle samewerking wou gee nie tot op so ‘n tyd dat ons saterdag 2e laaste eindig. Gemoedere was seer veral oor die woorde van sommige lede en ouers. Met hierdie gevoel in my hart gaan ek lughawe toe want ek vertrek dieselfde aand terug na New York. My vlug terug na SA is eers die volgende dag 11:15 so ek het verwag dat ek nou heerlik op die JFK lughawe gaan rondloop en bietjie “shopping” doen – dit is mos altyd goed vir ‘n vrou se gemoed. Maar ja, die teleurstelling… die terminale maak eers die volgende oggend 7:30 oop en dit is nou 22:30. Die lughawe se raad? Gaan grondvloer toe en maak jouself daar “tuis”. Die tuis beteken toe maak vir jou ‘n bed op die koue staal vloer teen die venster en wag vir die terminale om oop te maak die volgende oggend. Die enigste “diner” wat oop is se koste vir ‘n hamburger en koffie en is ±R300!  Honger en koud (dit reën) soek ek maar ‘n plekkie teen die venster en probeer tot ruste kom. Half 2 die nag sit ek regop en gesels met my man op sms – my wi-fi wou nie werk in die VSA nie – so ons was maar op duur kommunikasie. Balsem op my gemoed sodat ek darem die laaste deel van die nag kom omdop en slaap.

 

Maar die Here slaap nie! die volgende oggend op die vol vlug (daar het mense gewag vir plek), was ons op die ou end net 2 mense op die ry van 4 sitplekke en kon ek heerlik sag slaap!

 

Gaan sy poorte in met lof, sy voorhowe met lofgesang; loof Hom, prys sy Naam.

Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ‘n welbehae!

Was die lofsang van my lippe die hele naweek deur!

 

 

But for the Grace of God it could have been me – besef ons werklik hoe geseënd ons is om beddens en warm huise te hê??

014947
Today
Yesterday
This Week
Last Week
This Month
Last Month
All days
48
191
680
12655
1473
2019
14947

Your IP: 54.92.201.232
2017-12-16 01:41