background31

meaning name

Wat antwoord ek as die Here my roep?

Dit was ‘n vraag wat my skoonma gevra het op ‘n dag in Oktober toe ons gedink het het dit is haar laaste paar dae op aarde. My antwoord was – dan gaan Ma! Ma se plek is gereed gemaak en as Hy roep, moenie huiwer nie.

Nou is dit alreeds amper 2 maande verder en steeds het Hy haar nie geroep nie. Dit het my laat wonder of ek haar fluister stem reg gehoor het. Maar vandag wonder ek of sy nie daar vir ons ‘n profetiese word gegee het nie, want sien… verlede Saterdag het die Here ‘n ongebore kind huis toe geroep. Ek – reg of verkeeerd – het gevra: Here hoekom nie my skoonma nie? Sy wat so graag wil gaan; hoekom hierdie kleintjie wat nog ‘n lewe voor hom het?

Vanoggend toe kom haar woorde weer na my toe en ek weet – die Here het daar vir ons gewys dat wanneer Hy roep, moet ook selfs klein Landru gaan. Ons ken nie die redes nie maar in die boek “Wysheid van Sirag” staan daar in hoofstuk 11:28: Voor die dood moet jy ‘n man nie gelukkig ag nie, want aan sy einde sal ‘n man geken word.

As ek lees wat die patoloog met klein Landru se nadoodse ondersoek gesê het, dan sien ek hierdie besige klein mannetjie in mamma se maag wat rondwoel en reeds planne maak om asem te kry. Klaar weet die outjie van sy nood, maar in sy klein spasie het hy hom vasgewoel en sy suurstof afgeknyp. My gedagtes was toe – so ‘n besige mannetjie – sou hy op aarde – in die omstandighede waarin ons nou leef – kans gekry het om buite te speel en ‘n regte woelwater te kon wees? Die Here alleen weet, maar ek weet, uit ervaring, dat Hy vir elke ouer die kind gee wat sy kan versorg binne haar vermoëns: Die ouers met spesiale behoeftes kinders; die ouers met kanker kinders of hartprobleem kinders... So sal Hy ook aan ‘n spesiale ouer die kleintjie toevertrou wat vroeg moet Huis toe gaan, want Hy weet sy sal sterk genoeg wees om die aardse hartseer te dra. Hy beproef niemand bo hul vermoëns nie.

Daarom kan ons ook vandag antwoord – Gaan Landru – die Here het jou plek by Sy troon voorberei. Soos jou ma my gedig verander het – van “onrein” na “nog rein”. Ongeskonde deur hierdie wêreld. Nog ‘n seuntjie vir die koninkryk van God.

Maar Jesus het hulle na Hom geroep en gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God. Luk_18:16 

Dankie Ouma Lenie – dat jy selfs in jou moeilikste van dae – steeds die Here se stem hoor en met ons deel.

049734
Today
Yesterday
This Week
Last Week
This Month
Last Month
All days
70
156
672
46905
3139
6993
49734

Your IP: 54.198.77.35
2018-07-19 12:58