background31

meaning name

Ek was hierdie week deur 'n student gevra om die getuienis van my bekering vir haar neer te skryf as deel van 'n taak wat sy moes inhandig. hier is my antwoord:

"Lewer Asseblief Jou Getuienis By Ons Jeug"

Dit was 'n vraag van 'n kerk aan my 26 jaar gelede (1990) toe ek 'n Springbok atleet was en die mense wou hê ek moet hulle jeug aanmoedig. Ek het ingestem maar nie regtig geweet wat om te sê nie, want ek het geglo dat ek al van kleintyd af 'n Christen was en die Here geken het. So hoe vertel ek die jong mense nou van my bekering?

Ek het gegaan en met hulle gedeel oor hoe ek groot geword het en hoe ek my verhouding met die Here sien. Min het ek geweet dat daardie vraag eendag 'n heel nuwe wending sou kry.

Om alles te verstaan moet ek eers so 'n bietjie agtergrond noem:

  • Ek het in die Hervormde Kerk groot geword, so ek was gewoond aan stilte en stemmigheid in die kerk.
  • Ek was 'n nasionale atleet
  • Ek was baie skaam

My man was in ons studiejare my vriend asook my afrigter. Alhoewel hy ook in die Hervormde Kerk groot geword het, het hy reeds van hoërskool af te doen gehad met 'n sekere Pastoor Neser se werke. Dit wat hy dan met my gedeel het, het my glad nie aangestaan nie en het gemaak dat hy 'n sekere siening oor geloof het en ek 'n ander. Hy wou altyd meer leer en ek het net gesê: ek het my geloof – alhoewel kinderlik – dis vir my genoeg. Ek kon die hand van die Here in my lewe sien, so ek is oke

Wanneer die pastoor 'n sekere gemeente in Brixton, naby ons universiteit besoek het, het ons gaan luister. Ons het nie baie goed ingeskakel nie, want hul vorm van diens was baie anders as waaraan ons gewoond was in die Hervormde Kerk. Wat ons wel ingeneem het was: die een Sondag was daar 'n klein seuntjie in die gemeente. Hy was baie siek die oggend. Die pastoor het het hom vorentoe geroep en vir hom gebid. Teen die einde van die oggend was die seuntjie gesond en het hy daar rond gehardloop asof hy niks die oggend makeer het nie. Dit het 'n indruk gemaak en altyd diep in my agterkop bly vashaak.

Soos wat ons jare gevorder het, het ons tot trou gekom en kinders gekry. Steeds was my man besig met Pastoor Neser se leringe en wil ek niks weet nie. Ons Hervormde Kerk in Vanderbijlpark wou nie ons eersteling doop nie, juis a.g.v hierdie leringe. Dit het gelei tot groot onenigheid tussen my en my man. Op die uiteinde het my kinderkerk altwee my kinders gedoop en is ons gevra om ons lidmaatskap te bedank van die Vanderbijlpark gemeente. Ons vind 'n gemeente in Vaalpark waar ons gelukkig was aanvanklik, maar soos wat die kinders groter geword het en Sondagskool moes bywoon, het dit op my geval om hulle te neem, want manlief was besig met sy eie studies van Pastoor Neser. Hy het gevoel dat die lering wat ons by die kerk kry ver te lig is en dit hom nie meer bevredig nie. Ons het nooit enige huweliks probleme hieroor gehad nie. Die onderbou van ons geloof was dieselfde. Hy het net meer gesoek.

Vanaf 2004 het ek begin om pyne in my liggaam te ontwikkel, veral rugpyn. Dit het 'n invloed op my werk gehad en ek kon nie meer vir 'n volle periode in die klas staan nie. Teen 2007 het ek besluit om vir 'n MRI scan te gaan. Hulle kon niks fout vind met my rug nie en het net gesê my rug is 10jaar ouer as ek a.g.v die atletiek wat te veel voedingstowwe uit my liggaam onttrek het. Ek het opgeëindig met 'n rugstut wanneer ek lang tye moet staan.

Aan die begin van 2008 het my man 'n werk in Pretoria gekry. Dit het veroorsaak dat hy 4 dae van die week daar geloseer het en dan naweke weer tuis was. Hy het toe besluit om die bidure van die Pretoria groep van Pastoor Neser se gemeentes op Woensdag aande by te woon. Hy wou meer leer en wou met mense deel wat dieselfde behoefte as hy gehad het en dit is hier waar dinge verander het.

Een Woensdagaand in Julie 2008 het hy hulle vertel van my rug probleme. Net soos wat daardie klein seuntjie in die tagtiger jare genesing ontvang het, het hulle my man terug gestuur huis toe met die opdrag en 'n Bybelstuk: gaan salf en bid vir jou vrou. Wonderwerke gebeur nog en die Here genees nog.

Is daar iemand onder julle wat ly? Laat hom bid. Is iemand opgeruimd? Laat hom psalmsing.

Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.

En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom vergewe word.

Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die vurige gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Jakobus 5:13-16

Dit het my man met 'n tameletjie gelos, want hoe moet hy nou vir my sê wat die gemeente, waarvan ek niks wil weet nie, vir hom gesê het? Hoe moet hy, wat self nog min van die werkinge van die Heilige Gees ken en verstaan, nou iets so groots gaan doen as hy self nie eers weet hoe nie? Met moeite en baie vrae ry hy die Vrydag huis toe. Hy gaan soek 'n bottel salf olie by Spar en steek dit weg want hy weet nie wat om te verwag nie.

Op die ou end pak hy maar die bul by horings en vertel vir my waardeur hy die week gestoei het en dat hy gestuur is om my te salf en vir my rug te bid. Al wat ek kon antwoord op daardie stadium was: ek moet daaroor gaan dink. En my vraag was: "Hoekom ek? Hoe kan ek iets so groots van die Here vra?"

Ek het daarna kamer toe gegaan met die verse wat hy vir my gegee het en gaan lees. Ek volg toe ook die kruis verwysings wat in die Bybel gegee word en so word 'n hele nuwe wêreld vir my oopgemaak t.o.v genesing. In die tussentyd gaan my man in sy kantoor in en soek na antwoorde oor hoe om te salf en wat om in so 'n geval te bid, maar helaas, hy kry geen antwoorde nie. Die emails word nie geantwoord nie en die internet lewer geen resultate nie. Die volgende oggend vroeg is hy weer terug in sy kantoor besig om antwoorde te soek toe ek daar instap en sê ek is gereed, hy kan maar doen wat aan hom gegee is om te doen. Heel onkundig, maar in geloof dat dit die regte ding is, kniel ek. Hy salf my op my voorhoof en bid vir my. Eintlik, van pure senuweeagtigheid, het hy die gebed wat hy voorberei het, afgelees. Dit het alles net 'n paar minute geduur en toe was daar niks…. Geen wonderwerk. Net niks…

 

Gebed vir my gebid Julie 2008

Here, soos die profeet Jesaja gespreek het,
U het ons krankhede gedra en vir ons genesing gebring,
En dit toon U deur die werking van U apostels
en die werk wat Uself op aarde verrig het terwyl U met ons was.
Deur U dood Here, het u vir ons genesing gebring en ons herstel tot ‘n koninklike priesterdom,
‘n heilige volk en daardeur vir ons die oorwinningslewe bewerkstellig.
U het U Gees na ons toe gestuur en gesê dat ons sal doen wat U gedoen het
en groter dinge as dit, as ons glo in U Naam.

U het ook gesê dat ons die vrymoedigheid het in gebed om as ons iets in U naam vra,
te weet dat ons die bedes sal verkry wat ons vra solank dit volgens U wil is
en U het vir die melaatse gesê: Ek wil word gesond, en dit het so gebeur.

Daarom bid ek Here Jesus dat U ook vir hierdie liggaam genesing sal bring
sodat U naam verheerlik kan word deur die daders van U Woord
en nie net deur die sprekers daarvan nie.
Genees hierdie liggaam Here sodat dit as bewys kan dien vir almal
wat U naam aanroep dat U die ewigs lewende God is.
Ek bid dit Here in die geregtigheid van Jesus wat vir ons gekruisig is
sodat ons kan Lewe uit U woord en deur U Gees. Amen

Ons het aangegaan met ons dagtake en so deur die loop van die oggend gaan sit ek langs my man op die bank en fluister: "Ek dink ek is genees! Ek voel geen pyne meer nie. Ek kan draai en goed doen wat vantevore pyn veroorsaak het en nou is dit weg!" Daardie oomblik wat ek geweet het daar was 'n aanraking van die Here in my liggaam, siel en gees! Daar was nie vuurwerke nie, daar was niks groots nie, maar daar was 'n verandering in my hart, 'n versekering dat ek deelagtig geraak het van Iets wat ek nog nooit vantevore gehad het nie. Die Here het daar vir my lewendig geword en my ook lewendig gemaak! Dit was die laaste wat ek 'n rugstut gedra het.

Dit alles het net so voor die Julie skool vakansie gebeur. Een van die Sondag oggende daarna het ons toe die Gemeente in Vereeniging gaan opsoek wat hierdie leringe van Pastoor Neser op die hart dra. Daar word toe geleentheid gegee gedurende die diens vir mense wat 'n getuienis het, maar omdat ek nie iemand is wat voor vreemde mense praat nie, het ek niks genoem van hierdie grootse gebeurtenis nie. Ek self het op daardie stadium nog nie heeltemal besef wat alles gebeur het nie, hoe kan ek dit dan nog deel ook?

Ek het wel ons prediker van die Hervormde gemeente gekontak en aan hom vertel wat gebeur het. Dit was nie baie opgewonde ontvang nie. Ek wou ook die kinderkerk lei wat altyd die 2e Sondag na 'n vakansie plaasvind om daar my getuienis te gee sodat my eie gemeente dit kon hoor, maar hy wou niks daarvan weet nie. Die 1e Sondag na die vakansie gebeur dit toe so dat daar 'n krag onderbreking was tydens die diens. Ek voel in my hoe word ek gedruk om op te staan en die geleentheid te gebruik om my getuienis te lewer, maar weer eens, ek is nie iemand wat buite orde optree nie, so ek sit. En dit was die laaste sit van my daardie dag in daardie Hervormde kerk.

Ons het daarna die ander gemeente in Vereeniging meer besoek en so lede van hulle geword en wonderlike dinge geleer! Al daardie dinge wat my man al van hoërskool dae af met hom saam gedra en ondersoek het, en waarteen ek so gekant was, het eers in 2008 vir beide van ons lewendig geword. Wanneer die Heilige Gees voor loop en dinge verander, kan niemand dit keer nie! So het ons lewens dan gedraai van 'n "gelowige" na "'n kind van God". Ons was op 8 November 2008 gedoop en het 'n nuwe lewe in Christus begin!

Die woorde waarmee ek in my hart die doopbad ingegaan het was die volgende;

Daarom het Eli vir Samuel gesê: Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy antwoord: Spreek, HERE, want u kneg hoor. Toe het Samuel geloop en op sy plek gaan lê. 1Sam 3:9

Daardie woorde was die begin van my nuwe lewe in Christus: Spreek Here, u dienskneg hoor. Daarna was daar vele woorde wat die Here op my hart gedruk het, woorde wat ek moes spreek – ek wat nooit voor mense wou praat nie! Woorde wat ek op papier neergepen het – weer eens – ek wat nooit kon skryf nie het boeke vol geskryf. Woorde uit die Woord van die Here tot bemoediging, tot waarskuwing maar veral tot genesing en bevele uitvaardig teen die bose. As ek egter na alles kyk kan ek net stil raak en besef; die Here is groot en almagtig en sonder Hom is ek niks; is ek ook in staat tot niks. Ons kan baie dinge doen, maar Salomo het in Spreuke 3:5-8 gesê:

Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.

Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE, en wyk af van die kwaad;

dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.

Dit het my 40 jaar geneem om by daardie dag uit te kom waar ek waarlik my lewe in Sy hande toevertrou het. Byna 20jaar daarvan was daardie lewende woord in my huis, maar was dit geslote vir my hart. Vandag kan ek daarna terug kyk en dit vergelyk met die Emmausgangers. Hulle was deurentyd in die teenwoordigheid van Jesus en het gevoel dat daar iets anders is, maar eers toe Hy Homself aan hulle openbaar het, kon hulle uitgaan en dit verkondig. Eers toe ons die heerlikheid van die Here ervaar het, kon ons waarlik die getuienis bring wat in 1990 reeds gevra was.

015215
Today
Yesterday
This Week
Last Week
This Month
Last Month
All days
46
102
148
13267
1741
2019
15215

Your IP: 54.226.132.197
2017-12-18 05:00